Dinsdag 21 Junie 2016

Suid Afrika- ek moet ophou briewe vir jou, oor jou skryf. Maar hemel jy breek my hart vandag.

Vandag het my ma my gewaarsku teen jou, gesê ek moet my tas gepak hê, reg om Australië toe te vlug.
Vandag het my ma my vertel van jou stede wat brand, jou oseaan gevries, jou mense wat haat.
Vandag het my ma my 'n storie gelees van my voorvaders wat vir jou gebloei het, net om jare later vanuit hul graf te sien hoe hulle mense nou bloei.
My hart bloei ook, nie vir my omstandighede nie, maar vir jou.

Suid Afrika, ek moet ophou dink oor jou, ek moet ophou glo in jou. Maar ek klou vas aan die hoop dat ons mense tog harte het, dat ons tog genade sal kry vir ons sondes.

Maar vandag het ek uitgevind ons regering smeer hulself af aan 'n terroris aanval, ons misdaad kan mos glo nie erger nie.
Vandag het ek uitgevind ons nuus is korrup, nes ons regering. Mense word vermoor en daai nuus sien nooit daglig nie, julle lei ons net dieper in die donker.

Vandag het ek besef, ek staan op die grens daarvan om alles te verloor, al my drome, al my hoop, al my planne.
Vandag besef ek dat ek nie eendag my kinders gaan bosveld toe kan vat nie. Vandag besef ek dat my kinders nie windpompe gaan kan klim, of in plaasdamme gaan kan swem nie. Vandag besef ek dat ek nie by Tuks gaan graadvang nie. Vandag besef ek dat God ons lankal in die land verlaat het.

Vandag besef ek dat my ouers ure en dae geswoeg en gesweet het net om te sien hulle kinders gaan nie net veg vir hulle lewens, taal & drome nie, maar hulle gaan veg vir hulle oorlewing want hulle staan op die grens van 'n oorlog.

Suid Afrika. O Suid Afrika. Waar kom jou haat vandaan? Is dit tog die begin van dieselfde pad as 20 jaar terug, jou eie Apartheid Deel 2?
Was een fout dan nie genoeg nie?
Suid Afrika. O Suid Afrika, hemel my lief, sien jy waar ons staan? Sien jy waar jy fout gaan?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking