Dinsdag, 01 Augustus 2017

02/08/2017

Die liedjie lui "jy is die son in Breyten se brief".
Maar vir my is jy meer as dit.

Jy is vir my warm koffie op n mislukke wintersoggend.
Jy is vir my die melkweg wat elke aand waak oor my en die maan wie kom inloer snags wanneer jy dans in my drome.
Jy is vir my soos kliphard-vals-sing-in-die-shower en soos huis toe kom na 'n lang dag.

Jy is die enigste paar groen oë wat saak maak, wat my hart kan bly maak.
Die persoon wie my trane stop, vang & koester.
Jys my 'lag-uit-my-maag' reality check.

So miskien sou dit mooi geklink het om te sê jys die son in Breyten se brief.

Maar jy is die hand wat my dra oor my berge en riviere.

Maandag, 05 Junie 2017

The world breaks everyone and afterward many are strong at the broken places. But those that will not break it kills. It kills the very good and the very gentle and the very brave impartially. If you are none of these you can be sure it will kill you too but there will be no special hurry.

Sondag, 28 Mei 2017

BeloweMy

Ek moes seker al lankal ophou skryf oor jou, droom oor jou, wag vir jou.
Maar jy het altyd huis toe gekom.
Jy het altyd om die draai gewag met n bree glimlag.
Jy het altyd een of ander grappie of storie gehad om te vertel.
Jy was altyd daar.

En 5 jaar later het dit ingesink. Die groot- grasgroen-oog meisiekind was toe werklik alleen gelos om die berge op haar eie te versit.
In die begin was dit nie realiteit nie, want uit jou eie sou jy nooit gaan nie, jy sou nooit dit oor jou hart kon kry om my in sulke possiesie te los nie.
Maar hier sit ek in my bed en huil my oe uit want jy gaan werklik nooit weer langs my kom sit as ek tv kyk nie, jy gaan nooit werklik weer my kan troos of vir my se alles gaan okay wees nie. Want ek sien nie hoe dinge in hierdie wereld sonder jou ooit okay sal wees nie.
Ek weet ek moet laat gaan.Die hemel weet, na 5 jaar moet mens jou hart in ‘n lappies kombers toedraai en aan beweeg. Maar ekt my hart lankal verloor aan hierdie wrede wereld. En hys nie meer myne om terug te roep nie.
Ek moet bieg, dinge sonder jou is nie wat ek sou se is oorleef waardig nie. Regtig. Avonture is grys. Die bome is nie meer so groen nie en die duiwe kom kuier nie meer op die stoep nie.
Maar ek moet nou begin laat gaan.
Ek wil jou vertel dat ek goed doen op Universiteit. Dat die stress my grootste vriend is en dat ek nie kuier of drink of rook nie.Ek werk hard. Eks reg om ‘n sukses te maak. Maar jy ken die stories van my hart en jy weet wat sleep my onder toe.
Die familie is nie dieselfde sonder jou nie. Regtig. Ekt vergeet hoe dit is om tussen familie te wees.
Maar ek hoef nie hieroor verder te skryf nie want ek weet jy weet klaar al hierdie dinge.

Ek mis jou.

Maar belowe my net een ding?
Dat jy wel eendag op die stoep saam my gaan sit en ons gaan gesels asof jy nooit weg was nie.

Dinsdag, 25 April 2017

15

9:11 PM
Die tyd van die aand wat almal of rustig slaap, of voorsiening probeer maak vir more.
En as jy gelukkig is, is dit die tyd wat jy sy groen oe en bree glimlag kan groet met die wete dat jy sy kar more weer in jou driveway gaan intrek en jy in sy arms kan gaan staan en die wereld is weer stil vir ‘n rukkie.
As jy gelukkig is, soen hy jou op jou voorkop, en verklaar sy liefde aan jou en herinner jou dat jy sy maan en sterre is.

9:17 PM
Die tyd van die aand waar ek sit en skryf, meestal hofsaak opsommings of opstelle om my hart se eensaamheid stil te maak. En as ek gelukkig is, die eerste keer in ‘n paar dae wat ek gaan slaap met die wete hys lief vir my.
As ek gelukkig is, gaan ek oor 3 minute my pen neersit, my laaste koppie koffie gaan maak en vir die eerste keer vandag sy naam op my skerm sien.

9:21 PM
Die tyd van die aand waar jy jou hare vasmaak, jou grimmering gaan afvee en met rustigheid jou skoothond nag se en in die bed klim.
En as jy gelukkig is, kom kruip hy langs jou in en speel met daai stukkie haar-sliert wat nie in jou deurmekaar bolle is nie.
As jy gelukkig is, krap hy jou rug en stel jou gerus oor die struikelbloke van more terwyl jy saggies gaan klop aan klaas-vakie se deur.

9:26 PM
Die tyd van die aand, waar ek sit en huil. Onophoudelik en onverklaarbaar ineenstort oor alles wat ek nie meer met jou kan deel nie. En as ek gelukkig is weet ek waar jy is vanaand.

As ek gelukkig is, weet ek die verlange stop more.

Donderdag, 06 April 2017

Bloedsuster

Bloedsuster, Afrika-lief.
Ek kom sit alweer moedeloos op jou stoep terwyl jy ‘n koppie tee vol bloed skink en sug.
Ek kom klop alweer aan jou deur al weet ek deesdae maak jy dit net oop vir die regte velkleur.
Ek hoor hoe jy huil, al is die deur toe. Ek weet in die aande sit jy voor jou venster en kyk hoe die spoke van die nag al hoe meer word, hoe al die siele begin verlore rondsweef. Ek sien hoe jou bont-kleurige mure al hoe rooier word, want die oorlog in jou hart is deesdae net ‘n lied van smart.
Bloed-suster, Afrika-lief. Ek kom kniel voor jou deur, kom ons gesels gou asseblief.
Verduidelik aan my reguit en eerlik, wanneer hulle oor die boere se hekke klim, met hulle panga of hulle geweer en die naguil tjoepstil word sodat die gille die aand kan vul, glimlag jy soos hulle doen?
Ek sou verder dan graag wou weet, hoekom is jy so tjoepstil? Want as ek nie met my ore op die grond loop en luister na die grond wat huil nie, sou ek nooit weet van al die bloed nie.
Ek weet ek vang jou omkant want ek sien hoe jou hand bewe met jou bloed tee koppie, maar hoekom het die mielies in die vrystaat ophou groei?
Is dit ook ‘n nagevolge van Apartheid, of net die gevolge van plaasmoorde?
Ek is nie ‘n kenner nie, ek is slegs ‘n 19jarige wat vanaf ‘n jongeling se perspektief bespiegel en kyk hoe jy by jou mense se begrafplaas staan en treur. Ek sien hoe die Voortrekker Monument klip vir klip afgebreek word en hoe die volk moord vir moord uitgewis word. Ek verstaan die volk treur nie oor myne nie, want soos ek geleer het in my studies, is alles te danke aan Apartheid of so word ons forseer om te glo.
Asseblief verskoon my onkunde, maar is dit dan nie jou gekose leiers wat graag ‘n sekere klas van mens sommer lewendig wil begrawe nie? Ek neem aan sulke haatspraak is aanvaarbaar want die Handves Van Menseregte geld net vir die volke wat aan die slegte kant van Apartheid was.
(Asseblief moenie jou mense vertel van my eerlikheid nie, ek is nie die regte kultuur om myself te mag beskerm nie.)
Ek is nie so seker nie Bloedsuster oor jou ‘reenboog nasie’ gesegde nie, jou realiteit kilnk vir my al hoe meer soos ‘n moord-verhaal. Of soos ek in Kriminologie geleer is, lae-skaalse oorlogvoering.
Teen die tyd sit Bloedsuster op die punt van haar stoel met haar gemaskeerde gesig tussen haar hande. Haar bloed-koppie loop al oor, reguit in haar piering en dit word skemer hier oor die platteland se vlaktes. Ek sien hoe die kleur van kulture in haar oe al hoe donkerder word. Al hoe minder divers. Bloedsuster pik ‘n traan, ek kan sien sy verstaan ook nie.
maar
ekt wel gesien hoe bloedrivier weer ‘n realiteit word in haar oe.


Donderdag, 16 Maart 2017

vir jou Grootoog Wilde-Wragtig

Aan jou,
Die grootoog meisie wie ek teleurgestel het, die blondekop wilde-wragtig wie se lewenslus permanent afgestaan is.
Ek onthou hoe dit altyd ‘n kompetisie was van hoe jy jouself kan verbeter, of hoe jy die volgende stap sal vat. Jyt altyd versigtig en klein begin, maar jou eindes in alles wat jy aangepak het was groot.
Ek sal nooit vergeet hoe jy vreesloos bome geklim het nie, elke gogga wat die wereld bekruip was vir jou iets om te vang en te bestudeer. Elke dier rondom jou het altyd ‘n glimlag op jou gesig gelos.
Ek onthou al die kere wat jy die hele dag lank omgeswem het want daar was niks mooier as om op die bodem te wees en deur die water te kyk na die son wat stadig aangaan met sy lewe.
Ek onthou hoe jy so opgewonde was as iemand iets moois in jou lewe in bring, soos jou gestremde vriendin op kleuterskool. Syt nie lank gehad om te lewe nie, maar jou liefde was genoeg om haar moed te gee vir elke dag. Ek onthou hoe jy gehuil het toe sy nie een oggend by die skool was nie, ek onthou hoe baie bekommernis jy gehad het. EK weet jou hart was nog altyd te sag vir hierdie lewe.
Ek onthou hoe jy in die blomme baljaar het in ouma se tuin, hemel was sy nie demoer in vir jou nie. Maar syt gese dis okay want syt gesien hoe die blomme jou hart maak bokspring.
Meisiekind, jy was nog altyd die wereld sin. Jy was nog altyd iemand wie saam die wind beweeg want die lewe was nog nooit gaaf genoeg om vir jou ‘n permanente vesting te gee nie.
Ek weet jyt baie tydelikes gehad, jou Oupa, Justin. Mense wie jou lewe kom vul het met liefde en mense wie weg is nou, mense wie nie kon bly nie. En die hemel weet die kind binne jou huil want ek weet die Grootoog Blondekop sit in ‘n hartskamer se tronk en skreeu want sy mag nie uit nie, en sy weet as sy uit gaan, is sy nie meer veilig nie.
Ek ken jou hart mooiste, ek ken sy dele. Want ek weet daars so min van hom oor en ek weet jy veg so so bitterlik hard om hom weer gesond te kry sodat die blomme jou maak glimlag en sodat jou liefde weer mense gesond kan maak.
Ek voel hoe moeg jy is meisiekind, en ek weet nie hoe lank jy nog gaan kan veg nie. Ek verstaan okay?
Eks jammer ekt jou nie beskerm van die dinge af nie, eks jammer ekt nie ‘n beter poging aangewend om jou geisoleerd te hou nie. Eks jammer dat ek nie jou die toekoms gee waarvan jy gedroom het nie. Eks jammer dat ek nie jou beloftes na-gekom het nie. Eks jammer dat ek nie harder geveg het vir jou nie Roelien.
Ek verstaan meisiekind, die aande word lank, die sake onder jou oe gaan nie weg nie, daars nie meer lig wanneer jy die blomme sien nie. Ek verstaan. Ek verstaan dat die maan nie meer lyk soos een of ander veeverhaal wat nog ontdek moet word nie. Ek verstaan dat die gras nie meer groen voorkom nie. Ek verstaan dat die berge nie meer vir jou stories vertel nie. Ek verstaan dat die bome nie meer snags vir jou sing nie.

En eks jammer Roelien.

Vrydag, 07 Oktober 2016

oups

Oupa,

Vandag dra ek 'n brief aan jou op. Want ek mis jou vreeslik. Ek mis jou wysheid en kennis en omgee.
Ek mis jou verstaan en liefde.
Ek mis jou.
Ek mis jou stralende glimlag soos 'n warm sonnetjie in die winter.
Ek mis jou lag wat enige hart kon genees, heel maak.
Ek mis jou raad, jou insig oor my hart, want tot nou toe het niemand my geken soos wat jy het nie.
Ek mis jou kennis, oor die politiek, oor die mensdom, oor die Bybel.
Ek mis jou stories, die stories wat die nagmerries weg kon jaag, die stories wat my sag maak slaap.
Ek mis jou vashou as ek in stukkies is, as ek geen ander plek gehad het om te gaan nie. 
Ek mis jou hart, jou hart wat myne op gedra het.
Ek mis jou.
Ek mis jou wese, jou teenwoordigheid.
Ek mis die reuk van jou sigarrette vroeg op 'n saterdag oggend, ek mis die reuk van jou parfuum wat deur die huis trek as jy klaar maak op 'n sondag.
Ek mis jou strengheid, die krag wat jy verstaan het.
Ek mis jou.
Ek mis die leiding, die veilige plek. 
Ek mis jou meer as wat ek ooit sal kan beskryf.

Vandag vermoor die verlange my. My hart voel weer soos die dag toe ek jou vir die laaste keer gegeoet het in die ICU.
Vandag is dit 'n koue winters oggend, die tipe oggend wat altyd 'n koffie en 'n wol kombers en oupa se geselskap beloof het.
Daar is 'n koue wind wat waai, soos die koue wat my hart oorneem. Ek weet ek is nou 'n vreemdeling teenoor wie ek was toe jy nog hier was. 
Ek mis jou op die dae wat ek besef ek vertrou niemand, dat ek besef ek is nie meer instaat tot liefde wys meer nie.
Ek mis jou op die dae wat ek nie my hart meer kan keer om te breek nie.
Ek mis jou stem, jou 'dis alles okay Grootoog' manier van troos.

Vandag bevind ek myself op 'n vreemde plek.
Ek bevind myself op 'n plek waar ek nie  watse kant toe nie, waar ek ver van God af is, waar ek ander mense moet vertrou. Al voel dit of ek nie kan nie. Ek bevind myself op 'n plek waar my kop so ver in die toekoms is, dat ek nie my hart kan ken nie.
Ek vind myself op 'n plek waar die wysheid en kennis wat ek het, my nie meer help nie. 
Ek bevind myself op 'n plek waar ek als sal gee om jou raad te kan vra, om te hoor hoe jy vir my sê waar my kop gemik moet wees.

Ek wil nie teveel uitbrei vandag nie, ek wil nie jou vrede en rus steel nie.
Ek wil hê jy smoet weet dat ek jou nog kort. Jou nog verlang. Jou lag nog in my denke hoor. Begeer om my stories met jou te deel. Begeer om jou te kan bel en te kan afpak.

Ek mis jou Oupa. Baie. En ek wens jy was hier vandag. En ek mis jou.