Donderdag, 31 Desember 2015


Dat hy....



Ek het dit nodig gehad dat hy bly. Dat hy my bel en se hy id op pad na waar ookal ek is. Dat hy my die dood voor die oë sweer as ek uitgaan saam seuns. Dat hy vir my aanhou herinner hoe sterk ek is en dat hy op my vouch. Dat hy voorskool by die hek vir my wag. Dat hy met my stry en nie my sin gee nie. Dat hy die hardste lag. Dat hy die beste argumente bou teen my.  Dat hy my spot dat hy soos 8 keer my lengte is. Dat hy met harde woorde my net regruk voor toetse. Dat hy vir my wag buite eksamen lokale. Dat hy my 'liefie' noem. Ek het dit gekort.

Dat God jou hier sal bere in my hart, dat God my seen met jou wese naby my.

Donderdag, 10 Desember 2015

Vir V
-Roelien Faber (2015-10-28)
Miskien was dit die knop in my keel en die behoefte om in die skool badkamer in mekaar te sak en my oe uit te huil wat my laat besef het dis ‘n treurpad wat ek met my pen gaan loop. Miskien was dit elke herinnering en elke keer wat ek by jou gesit het en net kon gewees het wat my soos ‘n vreemdeling tussen almal laat voel het.
Die beeld in my kop van die afskeid. Sy lee huis. Sy kar wat nie meer op sy gewone plek staan nie. Pouses sonder hy wat vir my kom groet. Tog probeer my hart rus vind in die moontlikheid dat ons horisonne van ver af nog saam gaan kyk na mekaar. Tog probeer my hart rus vind in die wete dat dieselfde maan snags vir ons gaan kom kuier. Denke wat by my kom spook. ‘n Wete dat jy binnekort duisende en duisende kilometers ver gaan weg wees.
En dis asof die duiwel en die horlosie om dieselfde vuur dans want die tyd hardloop vinniger uit by die sekonde, vinniger, vinniger, en daar is niks wat ek kan doen om tyd te stop of om tyd te leen nie.
Die wete dat ons nie middernag gaan sit op jou dak en stry oor politiek en geloof en liefde hierdie naweek nie, laat ‘n deel van die sterre dowwer word.
Ek weet jy wonder, ‘Hoeveel keer gaan ek nog vir haar moet se, ‘jy gaan okay wees sonder my’ voor sy dit glo?’.  Maar ek weet, dat ‘n deel van jou daai vraag self gaan kan beantwoord die dag wat die son nie meer op kom nie. Daar was gisteraand ‘n storm. DIe weerlig het soms die wolke verlig terwyl die reen al laggend die aarde kom soen het. Ek glo dit was net vir jou. Jy was tog nog altyd so lief vir jou spookstories en donker, stormagtige nagte. Jou denke en wese is soos daai aande my liefste vriend. ‘n Onvoorspelbare, beeldskone storm, en ek bid dat jy mense in jou nuwe wit land sal wys.
My hart gaan jou verlang tot die dag wat ek weet jy gaan weer voorskool vir my wag voor jy ry, tot die dag wat ons weer op jou dak le en stry, tot die dag wat ons weer elke dag koffie gou drink net om te praat oor die strooi wat by Tuks aangaan en hoe sleg ons broeders en sisters van die ander volk bestuur. Ek dink ek gaan jou nog lank mis.
Ek sal nooit net oor ‘n vinnige koffie vir jou kan se hoeveel jy vir my beteken nie. ‘n Vinnige koffie sal nooit genoeg wees met jou nie.
Ek wil baklei. Ek wil jou oortuig om te bly. Ek wil jou nog elke dag sien, en ek wil nog elke dag jou wese in die omtrek he. Maar ek sal nie laat my selfsug jou weerhou van ‘n beter toekoms af nie. My wese wil jou beskerm van die gevaar waarin jy nie is nie, en ek is jammer daarvoor.

Ek het trane vandag gesluk, en ekt baie gedink ek gaan enige oomblik uitbars in trane en na jou huis toe stap en dat jy vir my gaan se die planne is gekanseleer. Maar die wolke is besig om al hoe meer te kom hang oor die jakaranda strate wat ons altyd saam baljaar het, en ek weet Afrika kom groet jou vir oulaas.