Dinsdag 02 Junie 2015

Nog Eenmaal

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek op in die donker skiet,
en luister, en al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie ver weg in die riet
uit donker in die donker water plof.
Uit Nuwe verse (1954)
19/03/2015

Waar die veldblomme altyd blom
en die rivier altyd vol loop
daar le die stukkies van my hart

waar die skedelkus lewens red
en die see sand getel kan word
daar le die stukkies van jou hart
26/05/2015

ons vergeet mense
maar ons dra nog hul harte

ons gee oor aan woede
maar smag na liefde

ons oordeel
maar ons soek objektiewe mense

ons kyk
maar ons sien nie

ons glimlag
maar ons harte huil

ons is op pad
maar ons gaan nerens heen nie

ons wil verstaan
maar ons wil nie luister nie

ons is, als.
ons is, niks.

My huis, My hart, my lewe

Stil-Stil hoor jy hoe sing die bosveld visvanger by die rivier. Die water plons so saggies teen die klippies in die verbygang. Die veld grasse dans rustig saam die wind en kielie liggies my bobene. Stadig in die verte sien mens ‘n trop zebras wat inkom rivier toe om weg te breek van die warm Afrika son. Ek sit die digbundel langs my neer en skuif my rug tot teen aan die wildersering boom se stam waarby ek al heel oggend sit. Die bosveld duif hop rond op die rivier sandjies terwyl ek die karpe in die kristalhelder water aanskou. Ekt in my lewe nog nie water gesien wat so glinster nie. Ek probeer vir net ‘n oomblik dink aan die goed wat ek nog moet afhandel voor die week verby is, maar vandag spoel my problem saam die water weg. Die filosofie van die lewe word weggewaai saam die wind en my siel dans saam op die voels se liedere.

My gedagtes dwaal saam alles van die plaas, en ek weet as ek die gaan oorvertel aan ense gaan dit soos ‘n cliché klink, maar vanoggend 4 uur toe die tarentale ontwaak en al laggend en opgewonde verby my kamervenster hardloop en die son se strale langs my in die bed le. Het ek besef dat die plek nie net my huis is nie, maar die grootste liefde in my lewe. En ja, daai bonatuurlike liefde waaroor almal kan skryf.

Om my hart te verloor in die vrolikheid van die tarentale, en passie te vind saam die gedans van die wind, was sweerlik my grootste fout. Want wys my waar my vrees so min waarde het soos hier? Wys my ‘n plek waar my hart aanklank en genot vind by alles. Ek vind rustigheid saam die zebras wat stadig koelte toe loop, ek vind aanklank by die sonbesies se koorsang. Wys my ‘n persoon by wie my siel rus vind soos dit op die plaas doen.

Vandag is my gedagtes tussen die immergroen bome wat die berg bedek, my hart smag na die vrede, die alleenheid saam ‘n nasie wat my siel sien voor my uiterlike. Ek glo vir ‘n slag weer soos ‘n kind, ek sien weer die goed,  Sy liefde straal, en my hart sing.

En soms hoop ek daar is iemand wat die in my kan uitbring. Maar vir nou, begin my hart by die grondpad afdraai Vygeboomfontein toe, en my siel vind rus saam die wind, ek vind veiligheid tussen die trop zebras, ek vind liefde in die tarentale se vrolikheid, en ek vang my hart saam die sonbesies sing.

Want terwyl die bosveld visvanger sy lied in my hart in sing, voel ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd my eie hart.
Ek ken liefde, en ek ken seer. Ek ken depressie en ek ken genot.
Elke sonstraal wat jou vel soen, elke traan wat oor jou wang rol
Ek ken dit

Ek ken vreugde, ek ken passie
Elke lag en sokkie in die plaas skuur
Ek ken dit

Ek ken haat en seer
elke begrafnis en hospital besoek
Ek ken dit


Ek ken onregverdigheid en leegte
elke graf en hart spasie
Ek ken dit