Dinsdag 02 Junie 2015

My huis, My hart, my lewe

Stil-Stil hoor jy hoe sing die bosveld visvanger by die rivier. Die water plons so saggies teen die klippies in die verbygang. Die veld grasse dans rustig saam die wind en kielie liggies my bobene. Stadig in die verte sien mens ‘n trop zebras wat inkom rivier toe om weg te breek van die warm Afrika son. Ek sit die digbundel langs my neer en skuif my rug tot teen aan die wildersering boom se stam waarby ek al heel oggend sit. Die bosveld duif hop rond op die rivier sandjies terwyl ek die karpe in die kristalhelder water aanskou. Ekt in my lewe nog nie water gesien wat so glinster nie. Ek probeer vir net ‘n oomblik dink aan die goed wat ek nog moet afhandel voor die week verby is, maar vandag spoel my problem saam die water weg. Die filosofie van die lewe word weggewaai saam die wind en my siel dans saam op die voels se liedere.

My gedagtes dwaal saam alles van die plaas, en ek weet as ek die gaan oorvertel aan ense gaan dit soos ‘n cliché klink, maar vanoggend 4 uur toe die tarentale ontwaak en al laggend en opgewonde verby my kamervenster hardloop en die son se strale langs my in die bed le. Het ek besef dat die plek nie net my huis is nie, maar die grootste liefde in my lewe. En ja, daai bonatuurlike liefde waaroor almal kan skryf.

Om my hart te verloor in die vrolikheid van die tarentale, en passie te vind saam die gedans van die wind, was sweerlik my grootste fout. Want wys my waar my vrees so min waarde het soos hier? Wys my ‘n plek waar my hart aanklank en genot vind by alles. Ek vind rustigheid saam die zebras wat stadig koelte toe loop, ek vind aanklank by die sonbesies se koorsang. Wys my ‘n persoon by wie my siel rus vind soos dit op die plaas doen.

Vandag is my gedagtes tussen die immergroen bome wat die berg bedek, my hart smag na die vrede, die alleenheid saam ‘n nasie wat my siel sien voor my uiterlike. Ek glo vir ‘n slag weer soos ‘n kind, ek sien weer die goed,  Sy liefde straal, en my hart sing.

En soms hoop ek daar is iemand wat die in my kan uitbring. Maar vir nou, begin my hart by die grondpad afdraai Vygeboomfontein toe, en my siel vind rus saam die wind, ek vind veiligheid tussen die trop zebras, ek vind liefde in die tarentale se vrolikheid, en ek vang my hart saam die sonbesies sing.

Want terwyl die bosveld visvanger sy lied in my hart in sing, voel ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd my eie hart.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking