Dinsdag 25 April 2017

15

9:11 PM
Die tyd van die aand wat almal of rustig slaap, of voorsiening probeer maak vir more.
En as jy gelukkig is, is dit die tyd wat jy sy groen oe en bree glimlag kan groet met die wete dat jy sy kar more weer in jou driveway gaan intrek en jy in sy arms kan gaan staan en die wereld is weer stil vir ‘n rukkie.
As jy gelukkig is, soen hy jou op jou voorkop, en verklaar sy liefde aan jou en herinner jou dat jy sy maan en sterre is.

9:17 PM
Die tyd van die aand waar ek sit en skryf, meestal hofsaak opsommings of opstelle om my hart se eensaamheid stil te maak. En as ek gelukkig is, die eerste keer in ‘n paar dae wat ek gaan slaap met die wete hys lief vir my.
As ek gelukkig is, gaan ek oor 3 minute my pen neersit, my laaste koppie koffie gaan maak en vir die eerste keer vandag sy naam op my skerm sien.

9:21 PM
Die tyd van die aand waar jy jou hare vasmaak, jou grimmering gaan afvee en met rustigheid jou skoothond nag se en in die bed klim.
En as jy gelukkig is, kom kruip hy langs jou in en speel met daai stukkie haar-sliert wat nie in jou deurmekaar bolle is nie.
As jy gelukkig is, krap hy jou rug en stel jou gerus oor die struikelbloke van more terwyl jy saggies gaan klop aan klaas-vakie se deur.

9:26 PM
Die tyd van die aand, waar ek sit en huil. Onophoudelik en onverklaarbaar ineenstort oor alles wat ek nie meer met jou kan deel nie. En as ek gelukkig is weet ek waar jy is vanaand.

As ek gelukkig is, weet ek die verlange stop more.

Donderdag 06 April 2017

Bloedsuster

Bloedsuster, Afrika-lief.
Ek kom sit alweer moedeloos op jou stoep terwyl jy ‘n koppie tee vol bloed skink en sug.
Ek kom klop alweer aan jou deur al weet ek deesdae maak jy dit net oop vir die regte velkleur.
Ek hoor hoe jy huil, al is die deur toe. Ek weet in die aande sit jy voor jou venster en kyk hoe die spoke van die nag al hoe meer word, hoe al die siele begin verlore rondsweef. Ek sien hoe jou bont-kleurige mure al hoe rooier word, want die oorlog in jou hart is deesdae net ‘n lied van smart.
Bloed-suster, Afrika-lief. Ek kom kniel voor jou deur, kom ons gesels gou asseblief.
Verduidelik aan my reguit en eerlik, wanneer hulle oor die boere se hekke klim, met hulle panga of hulle geweer en die naguil tjoepstil word sodat die gille die aand kan vul, glimlag jy soos hulle doen?
Ek sou verder dan graag wou weet, hoekom is jy so tjoepstil? Want as ek nie met my ore op die grond loop en luister na die grond wat huil nie, sou ek nooit weet van al die bloed nie.
Ek weet ek vang jou omkant want ek sien hoe jou hand bewe met jou bloed tee koppie, maar hoekom het die mielies in die vrystaat ophou groei?
Is dit ook ‘n nagevolge van Apartheid, of net die gevolge van plaasmoorde?
Ek is nie ‘n kenner nie, ek is slegs ‘n 19jarige wat vanaf ‘n jongeling se perspektief bespiegel en kyk hoe jy by jou mense se begrafplaas staan en treur. Ek sien hoe die Voortrekker Monument klip vir klip afgebreek word en hoe die volk moord vir moord uitgewis word. Ek verstaan die volk treur nie oor myne nie, want soos ek geleer het in my studies, is alles te danke aan Apartheid of so word ons forseer om te glo.
Asseblief verskoon my onkunde, maar is dit dan nie jou gekose leiers wat graag ‘n sekere klas van mens sommer lewendig wil begrawe nie? Ek neem aan sulke haatspraak is aanvaarbaar want die Handves Van Menseregte geld net vir die volke wat aan die slegte kant van Apartheid was.
(Asseblief moenie jou mense vertel van my eerlikheid nie, ek is nie die regte kultuur om myself te mag beskerm nie.)
Ek is nie so seker nie Bloedsuster oor jou ‘reenboog nasie’ gesegde nie, jou realiteit kilnk vir my al hoe meer soos ‘n moord-verhaal. Of soos ek in Kriminologie geleer is, lae-skaalse oorlogvoering.
Teen die tyd sit Bloedsuster op die punt van haar stoel met haar gemaskeerde gesig tussen haar hande. Haar bloed-koppie loop al oor, reguit in haar piering en dit word skemer hier oor die platteland se vlaktes. Ek sien hoe die kleur van kulture in haar oe al hoe donkerder word. Al hoe minder divers. Bloedsuster pik ‘n traan, ek kan sien sy verstaan ook nie.
maar
ekt wel gesien hoe bloedrivier weer ‘n realiteit word in haar oe.


Donderdag 16 Maart 2017

vir jou Grootoog Wilde-Wragtig

Aan jou,
Die grootoog meisie wie ek teleurgestel het, die blondekop wilde-wragtig wie se lewenslus permanent afgestaan is.
Ek onthou hoe dit altyd ‘n kompetisie was van hoe jy jouself kan verbeter, of hoe jy die volgende stap sal vat. Jyt altyd versigtig en klein begin, maar jou eindes in alles wat jy aangepak het was groot.
Ek sal nooit vergeet hoe jy vreesloos bome geklim het nie, elke gogga wat die wereld bekruip was vir jou iets om te vang en te bestudeer. Elke dier rondom jou het altyd ‘n glimlag op jou gesig gelos.
Ek onthou al die kere wat jy die hele dag lank omgeswem het want daar was niks mooier as om op die bodem te wees en deur die water te kyk na die son wat stadig aangaan met sy lewe.
Ek onthou hoe jy so opgewonde was as iemand iets moois in jou lewe in bring, soos jou gestremde vriendin op kleuterskool. Syt nie lank gehad om te lewe nie, maar jou liefde was genoeg om haar moed te gee vir elke dag. Ek onthou hoe jy gehuil het toe sy nie een oggend by die skool was nie, ek onthou hoe baie bekommernis jy gehad het. EK weet jou hart was nog altyd te sag vir hierdie lewe.
Ek onthou hoe jy in die blomme baljaar het in ouma se tuin, hemel was sy nie demoer in vir jou nie. Maar syt gese dis okay want syt gesien hoe die blomme jou hart maak bokspring.
Meisiekind, jy was nog altyd die wereld sin. Jy was nog altyd iemand wie saam die wind beweeg want die lewe was nog nooit gaaf genoeg om vir jou ‘n permanente vesting te gee nie.
Ek weet jyt baie tydelikes gehad, jou Oupa, Justin. Mense wie jou lewe kom vul het met liefde en mense wie weg is nou, mense wie nie kon bly nie. En die hemel weet die kind binne jou huil want ek weet die Grootoog Blondekop sit in ‘n hartskamer se tronk en skreeu want sy mag nie uit nie, en sy weet as sy uit gaan, is sy nie meer veilig nie.
Ek ken jou hart mooiste, ek ken sy dele. Want ek weet daars so min van hom oor en ek weet jy veg so so bitterlik hard om hom weer gesond te kry sodat die blomme jou maak glimlag en sodat jou liefde weer mense gesond kan maak.
Ek voel hoe moeg jy is meisiekind, en ek weet nie hoe lank jy nog gaan kan veg nie. Ek verstaan okay?
Eks jammer ekt jou nie beskerm van die dinge af nie, eks jammer ekt nie ‘n beter poging aangewend om jou geisoleerd te hou nie. Eks jammer dat ek nie jou die toekoms gee waarvan jy gedroom het nie. Eks jammer dat ek nie jou beloftes na-gekom het nie. Eks jammer dat ek nie harder geveg het vir jou nie Roelien.
Ek verstaan meisiekind, die aande word lank, die sake onder jou oe gaan nie weg nie, daars nie meer lig wanneer jy die blomme sien nie. Ek verstaan. Ek verstaan dat die maan nie meer lyk soos een of ander veeverhaal wat nog ontdek moet word nie. Ek verstaan dat die gras nie meer groen voorkom nie. Ek verstaan dat die berge nie meer vir jou stories vertel nie. Ek verstaan dat die bome nie meer snags vir jou sing nie.

En eks jammer Roelien.

Vrydag 07 Oktober 2016

oups

Oupa,

Vandag dra ek 'n brief aan jou op. Want ek mis jou vreeslik. Ek mis jou wysheid en kennis en omgee.
Ek mis jou verstaan en liefde.
Ek mis jou.
Ek mis jou stralende glimlag soos 'n warm sonnetjie in die winter.
Ek mis jou lag wat enige hart kon genees, heel maak.
Ek mis jou raad, jou insig oor my hart, want tot nou toe het niemand my geken soos wat jy het nie.
Ek mis jou kennis, oor die politiek, oor die mensdom, oor die Bybel.
Ek mis jou stories, die stories wat die nagmerries weg kon jaag, die stories wat my sag maak slaap.
Ek mis jou vashou as ek in stukkies is, as ek geen ander plek gehad het om te gaan nie. 
Ek mis jou hart, jou hart wat myne op gedra het.
Ek mis jou.
Ek mis jou wese, jou teenwoordigheid.
Ek mis die reuk van jou sigarrette vroeg op 'n saterdag oggend, ek mis die reuk van jou parfuum wat deur die huis trek as jy klaar maak op 'n sondag.
Ek mis jou strengheid, die krag wat jy verstaan het.
Ek mis jou.
Ek mis die leiding, die veilige plek. 
Ek mis jou meer as wat ek ooit sal kan beskryf.

Vandag vermoor die verlange my. My hart voel weer soos die dag toe ek jou vir die laaste keer gegeoet het in die ICU.
Vandag is dit 'n koue winters oggend, die tipe oggend wat altyd 'n koffie en 'n wol kombers en oupa se geselskap beloof het.
Daar is 'n koue wind wat waai, soos die koue wat my hart oorneem. Ek weet ek is nou 'n vreemdeling teenoor wie ek was toe jy nog hier was. 
Ek mis jou op die dae wat ek besef ek vertrou niemand, dat ek besef ek is nie meer instaat tot liefde wys meer nie.
Ek mis jou op die dae wat ek nie my hart meer kan keer om te breek nie.
Ek mis jou stem, jou 'dis alles okay Grootoog' manier van troos.

Vandag bevind ek myself op 'n vreemde plek.
Ek bevind myself op 'n plek waar ek nie  watse kant toe nie, waar ek ver van God af is, waar ek ander mense moet vertrou. Al voel dit of ek nie kan nie. Ek bevind myself op 'n plek waar my kop so ver in die toekoms is, dat ek nie my hart kan ken nie.
Ek vind myself op 'n plek waar die wysheid en kennis wat ek het, my nie meer help nie. 
Ek bevind myself op 'n plek waar ek als sal gee om jou raad te kan vra, om te hoor hoe jy vir my sê waar my kop gemik moet wees.

Ek wil nie teveel uitbrei vandag nie, ek wil nie jou vrede en rus steel nie.
Ek wil hê jy smoet weet dat ek jou nog kort. Jou nog verlang. Jou lag nog in my denke hoor. Begeer om my stories met jou te deel. Begeer om jou te kan bel en te kan afpak.

Ek mis jou Oupa. Baie. En ek wens jy was hier vandag. En ek mis jou. 
Matriek 2016
“But He said, “My grace is sufficient for you, for My power is made perfect in weakness”
 – 2 Corinthians 12:9
Ek wil daar begin, want maak nie saak wat enige onderwyser of leerder vir my se nie, my toekoms le nie op die rooi merk in die hoek van my toetse nie, maar in Sy bekwame hande. Daar is geen twyfel oor hoe taai hierdie jaar gaan wees nie, en ek sal nie myself flous om te dink ek gaan kan leegle nie, maar geen berg is te groot nie.
Die opdrag was om my verwagtinge vir 2016 te verwoord, maar die waarheid is, verwagtinge skep teleurstelling, daarom sal ek eerder dit ‘n brief van planne noem, want dis nog net planne vir nou.
Ek wil begin by my vriende, want ek is daar gesit met doel. Ek wil he hierdie jaar moet in hulle harte wees, ek wil he ons moet sterker saam staan as al ooit van tevore. Ek wil he God moet deur my werk om hulle te bereik. ‘Eendrag maak mag!’
Dan wil ek die jaar graag my kop op die fokuspunt hou, die wederkoms wat al hoe nader kruip. Eks nie op aarde gesit om 8 onderskeidings te kry nie, dit is nie hoekom enige iemand hier is nie. Ek wil die jaar nader aan God wandel, ek wil my mense rondom my sien Hom leer ken. Ek wil fokus op meer as net Universiteits keuring, ek wil fokus op God se doel vir my lewe. ‘Hou Koers!’
Hierdie jaar gaan verseker soos my vorige 12 jare van skool wees, ek gaan dit nie oor ‘n jaar onthou nie, ek gaan ook nie omgee nie. Ek verwag nie veel van Midstream College af nie, net sodat hulle my in vrede sal laat om die laaste maande hier klaar te maak. Ek sal bitterlik graag wil sien hoe die mense wie ek ken al sedert die begin van my skool loopbaan in MC (Graad 2 – 2006) uitdraai, al is hulle nie vriende nie. Ek wil sien hoe Midstream ‘n skool word soos Affies, ‘n skool waarheen kinders wil gaan al vandat hulle verstand het. Ek wil sien hoe mense rondom my besef Midstream is nie so sleg soos dit soms voel nie. Ek wil vir ou laas redenaars doen, todat ek eendag ‘n Advokaat is en dit basies doen vir ‘n lewe, sal maar die skoolbrood vir nou aanpak. Dan wil ek die jaar soveel as moontlik op die plaas kom, want as ek oorsee gaan swot gaan dit die plek wees waaroor my hart huil. Ek wil in my toekoms ‘invest.’ Ek wil aanhou staan vir wat ek glo, al kos dit my detensies of eindlose bakleierye. Hierdie is die jaar van ‘n bitter moeilike afskeid, en dit gaan in ons almal se harte meer worstel as enige iets. Hierdie is al wat ons ken, skool, uniform, skaapmentaliteit. Skool leer ons nie hoe om te survive daar buite nie, indien enige iets is skool die oorsaak hoekom so min mense dit maak. Ek wil uit hierdie vasgevange hok kom wat ‘n naam het. Want dis al wat dit is. Daar is geen uniekheid aan hierdie nie, almal dink dieselfde, en as ek saam die wolwe moet speel om van dit af weg te kom, dan spring ek kop eerste in.
Daars baie dinge wat ek graag sou wou doen, daars baie wat ek gaan doen, maar geen van dit kort skriftelike bewyse dat dit in my kop was nie. Inteendeel, die beste goed gebeur as dit op nommer 99% besluit word en jy vir daai oomblik bloot net lewe, nie maande lank beplan en droom nie. Slegs te sien en te doen.  Ek lewe, ek sit nie en beplan nie.
Verder as dit is daar nie veel nie. Ek weet waarheen is ek op pad, ek weet wat ek kort om dit te maak, sover dit my traak is ek op die wen pad en geen menslike wese sal dit vir my kan verander nie.
Ek weet wie ek is, ek weet waarheen God my stuur, ek weet dat my sake reg le. Al wat ek nou wil he is ‘n vreedsame jaar sodat ek in die stilte van Sy skepping vir ou laas kan kla oor skoolwerk en skool drama. 2016 is so tydelik soos die herinneringe gaan wees daarvan.
“Some people are born with tornados in their lives, but constellations in their eyes. Other people are born with the stars at their feet, but their souls are lost at sea.’
Ek kies wat ek met 2016 maak, en niemand staan in enige plek om vir my iets te se oor my keuses nie.

-Roelien Faber (2016-01-13)                                                                                                                                                                    As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my.

Briewe (1)

Liefste Ouma & Oupa
Daagliks verander die Here ons lewens, Hy vou sy hande om ons en Hy sorg dat ons altyd Sy liefde in ons harte voel. Ons wil gedurig weet wat die toekoms in hou want ons as mense bly altyd bang vir dit wat die toekoms inhou, maar ouma & oupa, die Here het hierdie klaar beplan. Die Here het klaar hierdie roete vir julle neergele en dit is goed. Enige iets wat Hy in ons lewenspad sit is goed.
Ek wil nie he ouma hulle moet onsteld wees oor die trek nie, want dit kom uit Sy hande uit, en daarom is dit die beste.
Ek wil begin om dankie te se, dankie vir elke aand wat ouma met ons en Riaan hulle uitgehou het as ons nie kon ophou lag na 1 die oggend nie. Dankie vir elke drukkie en ‘eks lief vir jou’. Dankie dat ouma hulle vir ons die geleentheid gegee het om soos kinders in die veld te kan speel en te kan lewe asof die lewe sorgloos is. Dankie vir elke bietjie Vryheid wat julle vir ons gegee het en dankie vir elke krismis bed op ouma se mat voor die tv. Dankie dat Ouma ons ‘n kans gegee het met elke kuns medium, van verf tot pastel tot waterverf. Oupa, dankie dat ons altyd na jou toe kon kom om te vra vir nog ‘n stukkie hout om weg te skuur. Dankie dat ouma ons vertrou het in ouma se geheime tuintjie. Dankie dat julle altyd bereid was om ons iets nuuts te leer, van puddings maak tot vliegtuiens aan mekaar sit. Dankie vir elke oproep en elke koek bak sessie. Lewe sonder julle sou nie die moeite werd gewees het nie. Dankie vir elke keer wat oupa ons kielie todat ons huil. Dankie vir oneindige liefde, liefde wat verstaan en altyd omgee. Dankie vir elke geleentheid om ons niggies en neefies te sien. Dankie dat ouma hulle altyd aan ons kant was. Dankie vir al die moeite, al die raas oor ysie papiere wat die plek vol le, en dankie vir elke keer, selfs na 16 jaar, wat ek nog op ouma se skoot on die slaap kan raak.
Ek is jammer dat ek nie gereeld daar kon uitkom nie, ek is jammer dat ons verby mekaar begin leef het. Ek is jammer dat ek nie meer gedoen het om daar uit te kom nie. Ek is jammer da tons julle soms grensloos kwaad gemaak het. Ek is jammer vir elke vuil merkie wat ons as kinders teen Havertlaan se mure gelos het. Ek is jammer dat ek nie vir julle daar kon wees soos julle lewenslank daar was vir my nie.
Oneindig dankie vir al die herinneringe wat ek saam julle kon maak, elke lag en elke uit skel. Ek sal daai herinneringe nie vir die wereld verruil nie.  Dankie dat julle altyd moed gehad het. Want ekt my moed getrek by julle.
Dankie dat julle was wie julle was. Want julle rol in my lewe was oneindigend groot.

Sal jy my by die hemel poorte kry?

Donderdag 06 Oktober 2016

Vir jou

Ek wil 'n brief skryf vandag vir jou, jy wie my lewe verander het. Jy wie my lewe kom red het.

Baie aande lê ek wakker en luister, luister na die dinge wat my kop skreeu en my hart oor wil baklei. Ek luister na die chaos, die land se politiek, die woorde wat my ore moes verdra, die dinge wat ek probeer vermy. Ek lê wakker en dink aan miljoene goed wat stukkie vir stukkie my kom vernietig. 
Ek probeer dikwels verstaan hoe dit moontlik is, hoe mens deur als kom. 
Meeste van als bewonder ek hoe die menslike hart homself elke dag probeer sterk hou, hoe elke dag 'n nuwe oorlog is.

Jys nou net huis toe, en jys alweer in een van jou vreemde buie wat ek soms sukkel om te verstaan. Nie-te-min, ongeag, maak jou gesig my hart gelukkig. 
En hier begin die oorlog klaar, want my kop weet hoe seer die kan maak maar my hart weier om te glo dat jy instaat is tot dit toe. My hart sien elke dag hoe jy my hart vashou en dit bewaar en dit jou no1 prioriteit maak maar my kop weier om te glo dat iemand instaat is daartoe om my lief te hê.

Asseblief moenie dink 'eks sleg vir haar' of 'sy vertrou my nie'. Want ek weet jy doen soms my engel. Tog kan ek vandag met 'n rustige hart skryf oor jou, oor hoe mooi die lewe kan wees, instede van al die aande wat ek myself aan die slaap gehuil het. 

Ek wil vandag vir jou dankie sê. Dankie vir al die kere wat jy trane gekeer het sonder om te weet. Dankie vir al die kere wat jy bereid was om my eerste te sit. Dankie vir al die kere wat jy my lief gehad het toe ek self nie kon lief wees vir myself nie. 
Ek weet jy gaan die afskryf as niks, woorde traak jou min. Maar ek weet ek gaan eendag terug kyk na die en dit gaan nog my hart se woorde wees. 

Ek wil vir jou sê van hoe ongelooflik jy is. Hoe jy 'n absolute hartlose wese kan vat en die liefde kan uitbring. Ek glo in jou. En dit klink nie soos iets besonders of merkwaardig nie maar vir iemand wie skepties is oor almal, is dit 'n groot ding. 
Ek wens ek kon jou meer sien. Ek wens ek kon jou meer vertel hoe lief ek jou het. Ek wens jy kon in jou hart voel wat ek voel wanneer ek jou gesig sien, veral wanneer jy glimlag.
Want jy het dit reg gekry om 'n absolute hartlose siel te verander in iets wat weer heel is, iets wat weer lief kan hê. Ek is dankbaar vir jou. En ek bid vir jou. En eks oneindigend lief vir jou. 
En selfs al is die oorloë in my kop chaos weet ek dat niks die sekerheid in my hart kan weg vat nie.

Ek skuld jou 'n leeftyd van liefde, 'n leeftyd van geluk, want al was dit nog net 'n paar maande, kon jy 'n leeftyd van seer oorskryf. 
Ek weet daars nie die regte woorde om my hart se woorde te verstaan nie. Weet net.
Ek gee om.
Ek is hier.
Ek ondersteun jou.
Ek belowe om jou te dra.
Ek is lief vir jou.
Met alles in my.